2022 Matrikulant deel van Amy Bell Stigting


Johanna Phago, een van ons matrikulante van 2022, is tans besig om haar vlerke te sprei in Gqeberha, voorheen bekend as Port Elizabeth. Irvin Tam, ʼn Chinese donateur van ons kinderhuis, het vir haar ʼn pos in die administratiewe afdeling van een van sy besighede aangebied waar hy akkommodasie verhuur aan studente van die Universiteit van Port Elizabeth. Die salaris wat sy verdien, word aangewend vir haar persoonlike behoeftes, terwyl mnr. Tam haar van etes en akkommodasie voorsien. Johanna is ook deel van die Amy Bell Foundation, ʼn internasionale liefdadigheidsorganisasie, wat Irvin Tam in Suid-Afrika bestuur. By die Amy Bell Foundation se sentrum word tientalle kinders versorg wat trauma in die een of ander vorm beleef het. Hulle het ook ʼn beursprogram wat ʼn spesiale kind die geleentheid bied om universiteitsopleiding in die omgewing te kry.

ʼn Student wat vir hierdie beurs kwalifiseer, moet aan spesiale vereistes voldoen: ʼn verbintenis tot uitnemendheid in sy/haar studies; ʼn begeerte om ander minderbevoorregtes te help; en die verantwoordelikheid om as rolmodel en goeie voorbeeld vir jonger kinders op te tree.

As ʼn Amy Bell Angel het Johanna reeds haar hart en haar gawes gaan deel met ʼn skool vir gestremdes.  

Ondersteun Ons