
Presteer teen alle verwagtinge in: Abraham Kriel hou jaarlikse prysuitdeling
“Jy moet jou kinders aanmoedig en ondersteun,” het Lady Bird Johnson gesê, “want hulle is geneig om te leef volgens wat jy van hulle glo.” By Abraham Kriel Kinderhuis sien ons elke dag hoe waar hierdie woorde is. Kinders floreer wanneer hul sterkpunte en prestasies erken word. Daarenteen kwyn hulle onder die druk van skerp kritiek of wanneer hul pogings nie raakgesien word nie. Kinders moet weet dat hul harde werk en deursettingsvermoë saak maak – selfs al verskil hul resultate van dié van ander.
Gegewe die omstandighede waaruit baie van ons kinders kom, is hulle nie altyd die toppresteerders nie. Trauma maak leer moeiliker vir kinders wat uit ʼn moeilike agtergrond kom. Wanneer kinders met leerprobleme sukkel, kan dit vir hulle ʼn enorme stryd wees om by hul tydgenote by te hou. Wanneer kinders voor ʼn uitdaging te staan kom wat na ʼn onoorkomelike hindernis lyk, verloor hulle maklik moed. Dit laat hul motivering om te groei verder afneem. Om hierdie rede hou ons ʼn jaarlikse prysuitdeling om ons kinders se prestasies in akademie, sport, kuns en lewensvaardighede, soos vriendelikheid, behulpsaamheid en leierskap, te erken. Huisouers benoem kandidate in elke kategorie, en saam met ons maatskaplike werkers kies ons die wenners.
Hierdie jaar het die vreugde van ons wenners, terwyl hulle hul pryse ontvang het, die atmosfeer met lig en hoop gevul. Om die krag van erkenning te sien, raak ons harte en insipreer ons. In die stralende gesigte van ons kinders sien ons die innerlike lig wat deur liefde en aanmoediging aangesteek word. Aan elkeen van ons jong mense by Abraham Kriel: dankie dat julle jul unieke gawes met ons deel! Soos Carter Crocker gesê het: “Jy is dapperder as wat jy glo, sterker as wat jy lyk en slimmer as wat jy dink.”
