
Abraham Kriel se kindstem maak golwe by openbare redenaarskompetisie
Die kultuurseisoen van Hoërskool Nylstroom skop elke jaar reeds in Januarie af. Een van die hoogtepunte is die deelname aan die landswye ATKV-redenaarskompetisie. Dit is altyd ʼn groot eer vir enige leerder om deel van dié span te wees.
Om die skool te verteenwoordig, gaan leerders eers deur die interne huiskompetisie, daarna die ATKV-kompetisie, en uiteindelik kan ʼn plek in die interhoër-redenaarspan volg.
Met haar uitstekende toespraak en lewendige voordrag het Tijana Bosman, ʼn Abraham Kriel-kind en graad 9-leerder aan die Hoërskool Nylstroom, die gehoor op die punte van hul stoele gehad. Haar drie sterk, oortuigende argumente en skitterende, eietydse verwysings het telkens die aandag vasgevang. Dit was gou duidelik dat sy ʼn aanwins vir die span sou wees.
Die interhoërspan bestaan uit 16 leerders – ʼn groot eer en voorreg om die skool so te verteenwoordig. Alida van Heerden, kultuuraandkoördineerder van Hoërskool Nylstroom en Tijana se juffrou sê: “Tijana het haar taak met trots en verantwoordelikheid uitgevoer. Sy het vroeg reeds gewys dat sy oor deursettingsvermoë beskik en sterk leierseienskappe toon. Haar selfgeskrewe en deeglik voorbereide toespraak was van ʼn besonder hoë standaard. Daar is geen twyfel dat sy haar talent nog baie verder in haar hoërskoolloopbaan sal uitleef nie.”
Die interhoërredenaarskompetisie is vanjaar deur Hoërskool Frikkie Meyer aangebied. Dit was ʼn dag vol gesels, oorreding en met maats saamkuier. Tradisiegetrou is al die kultuurleerders die voorafgaande week tydens ʼn spogfunksie vereer. Tydens die geleentheid het ʼn gasspreker die deelnemers gemotiveer en herinner aan hul besondere talent en die verantwoordelikheid wat dit meebring. Die aand is heerlik afgesluit met sop, vetkoek en kolwyntjies.
Met haar skerp waarnemingsvermoë, liefde vir die taal en opregte omgee vir mense, is dit duidelik dat Tijana nog vele suksesse as redenaar gaan beleef. Sy leef haar talent en passie vir die woordkuns ten volle uit.
Welgedaan Tijana, jou Abraham Kriel-familie is trots op jou!
