
'n Reis van hoop: Twee Abraham Kriel-meisies jaag hul drome na
“As maatskaplike werker by die Abraham Kriel Kinderhuis Nylstroom het ek daagliks die voorreg om kinders op hul lewenspad te begelei. Vandag wil ek twee leerders se besondere pad met julle deel,” vertel Charnel Oberholzer, maatskaplike werker by die Abraham Kriel Kinderhuis Nylstroom.
Twee van ons dogters, Cassey Stehouwer en Tijana Bosman, is onlangs gekies vir ʼn toer vir akademiese uitblinkers. Met hulle uitmuntende akademiese rekords sluit hulle aan by ʼn groep wat van 3 tot 13 Oktober 2025 deur Ierland toer. Dat kinders uit ʼn kinderhuis só ver kom, is besonder – dit getuig van harde werk, deursettingsvermoë en hoop.
Toe die uitnodiging kom, het ek onmiddellik aan die uitdagings gedink: finansies, regverdigheid teenoor ander kinders, administrasie en die groot verantwoordelikheid om hierdie droom moontlik te maak. Maar met die hulp van ons bemarker, Marlien de Villiers, en die ongelooflike ondersteuning van borge, het ek gou besef: die grootste struikelblok was nie geld nie, dit was my eie ingesteldheid.
Die proses was alles behalwe maklik: van visumaansoeke en papierwerk tot wag op dokumente en die spanning oor of ons dit betyds sou regkry. Tog het die twee dogters my deurgaans verras. Hulle het geduldig gebly, mekaar gemotiveer en selfs vir my hoop gegee toe ek begin twyfel. Waar ek húlle moes kalmeer, was ek dikwels die een wat kalm gehou moes word.
Hierdie reis het my waardevolle lesse geleer:
- Hoop is sterker as struikelblokke.
- Ons is nooit alleen nie – spanwerk dra drome.
- Kinders in ʼn kinderhuis is ongelooflik veerkragtig. Hulle weet wat dit is om met min klaar te kom, maar bly altyd vas glo dat drome haalbaar is.
My wens aan elke kind daar buite: Jou drome is belangrik. Jý is belangrik. Hou vas, al voel jou hoop so klein soos ʼn mosterdsaadjie.
En aan elke volwassene: Moenie so vaskyk teen jou eie struikelblokke dat jy ʼn kind se drome in die wiele ry nie.
