Carpe Diem
Monique Botha
Op 9-jarige ouderdom moes Monique Botha in 2015 die Abraham Kriel Kinderhuis Nylstroom haar nuwe tuiste noem. Met die intrapslag was dit duidelik dat sy nie sou toelaat dat die moeilike huislike omstandighede waaruit sy kom haar verder sou onder kry nie.
Sy het die hartseer uit haar verlede eerder as motivering gebruik om die mooi te soek; nie net in haar omstandighede nie, maar ook in mense. So is daar ʼn saadjie geplant om die mooi in ander uit te bring en het Monique se droom om ʼn haarstilis te word, ontstaan.


Taylor van Staden
Taylor van Staden is in 2015 in ons kinderhuis ingeneem. Nadat sy gematrikuleer het, het sy om 'n beurs aansoek gedoen om onderwys by AROS te studeer. Gedurende haar studies werk sy deeltyds om in al haar behoeftes te voorsien. Sy is tans besig met haar finale jaar en sal spoedig met ʼn onderwyskwalifikasie spog. Taylor is ook ʼn belowende jong skrywer en neem aan skryfkompetisies deel. Hier is een van haar jongste gedigte:
My ouerhuis was nie wat dit moes wees nie. Toe ek in die kinderhuis geplaas is, het ek myself gevind. Ek het geleer hoe om my eie mens te wees en dat ek enigiets kan wees wat ek wil wees. Die kinderhuis was my ‘safe place’ toe alles wat ek geken het, inmekaar gestort het. Dit was die beste ding wat met my kon gebeur het. Te danke aan hulle, is ek nou besig met my finale eksamen. Hulle is die rede dat ek my droom kan uitleef.
Gavin Smith
Gavin is sedert Mei 2014 deel van ons AKK-familie. Hy is ʼn kranige sportman en blink uit in rugby, krieket en gholf. In 2018 word hy as leier by Laerskool Nylstroom verkies. In 2022 is Gavin vir die Limpopo Blou Bulle se hoërskolespan gekies. Hy word in 2022 as onderhoofseun van Hoërskool Nylstroom aangewys. Sy droom is om ingenieurswese te studeer en beroepsrugby te speel.
Ek is al lank in die kinderhuis; as dit nie vir dié plek was nie, dan sou ek nie al my drome kon bereik nie. Die Here het my hier geplaas om ʼn verskil te maak en die klein kindertjies te inspireer. Die kinderhuis is ʼn plek waar drome waar word.


Sanet Basson
Sanet is in Maart 2017 by die kinderhuis ingeneem. Sy het in 2018, haar graad 10-jaar, ʼn bragiale sist ontwikkel. Gereelde inflammasie het baie pyn en ongemak veroorsaak. Daarbenewens het dit ook ʼn groot invloed op haar selfbeeld gehad. Ons kinders is almal afhanklik van die staat vir mediese sorg, maar Sanet kon op daardie stadium nie by die staatshospitaal geholpe raak nie. In haar matriekjaar (2020) het ons uiteindelik privaat hulp deur middel van Jacaranda FM se Good Morning Angels en Operation Healing Hands gekry. Die sist is voor haar matriekafskeid en finale eksamen verwyder. Sy het matriek met vlieënde faandels geslaag en universiteitstoelating gekry. As gevolg van die mediablootstelling wat haar storie geniet het, het sy ook ʼn privaat beurs vir haar studies gekry. Sanet studeer onderwys aan die Universiteit van Pretoria en is amper klaar met haar tweede jaar.
Die kinderhuis het my huis geword. Sodra ek van die pad afgedwaal het, het die kinderhuis se personeel my soos ouers gedissiplineer, en ook my hand gevat en my op die regte pad teruggelei. Die kinderhuis is nie net die plek van veiligheid nie; daar is mense wat jou potensiaal raaksien en na die beste van hulle vermoë help om in die lewe vordering te maak. Daar is mos ʼn sêding: "Dit neem ʼn hele gemeenskap om ʼn kind groot te maak." Ek weet ek en elke ander kind by Abraham Kriel Kinderhuis was baie bevoorreg dat ʼn gemeenskap mekaar gehelp het om ons groot te maak. Die kinderhuis was my grootste geskenk van God af.
Benjamin Moller
Benjamin is sedert Desember 2014 deel van die Abraham Kriel Kinderhuis Nylstroom. Hy het in 2020 aan die Hoërskool Nylstroom gematrikuleer. In 2021 skryf hy as student by Sondela Academy in en is tans besig met sy tweede jaar in Wildsplaasbestuur. Benjamin het ook opleiding in hotel-, lodge- en oordbestuur ontvang. Omdat hy oor die gawe beskik om nuwe sakegeleenthede te identifiseer en sy ideale te verwesenlik het hy die Student van die Jaar-toekenning in hierdie kategorie by Sondela Academy gewen.
Die kinderhuis was die rots waarop ek die fondasie vir my toekoms kon bou. Dit was nie my eerste en beste opsie om daar te wees nie, maar dit was werklik ʼn baie goeie tweede opsie. Die kinderhuis het my gewys hoe om selfstandig en verantwoordelik te wees. Daar het ek geleer hoe om ʼn beter ‘ek’ vir myself en vir ander mense te wees.
