Huisouers speel ʼn belangrike rol in ons kinders se herstel


Sina Mohlape is ʼn huisouer by Abraham Kriel Kinderhuis Nylstroom. Vir haar is die werk wat sy daagliks doen ʼn roeping wat liefde, geduld, begrip en toewyding verg.

Volgens Sina is dit belangrik dat elke huisouer ʼn goeie begrip het van kinders se emosionele, sielkundige en neurologiese ontwikkeling. Dit is veral noodsaaklik wanneer kinders moeilike en soms traumatiese omstandighede beleef het en weer moet leer om mense te vertrou.

“Ons werk vereis dat ʼn mens kalm, ferm, konsekwent, betroubaar en verantwoordelik moet wees. ʼn Huisouer moet goed in ʼn span kan saamwerk en vinnig, maar met wysheid, besluite kan neem. Hierdie rol gaan nie net daaroor om fisiek teenwoordig te wees nie, maar om terapeuties beskikbaar te wees,” sê Sina.

Vir ons kinders bied ʼn huisouer dikwels ʼn veilige toevlug – iemand by wie hulle kan huil, raad kan vra, ondersteuning kan kry en weer kan begin glo dat hulle saak maak.

Volgens Sina vervul huisouers dikwels ook die rol van ʼn ouer. “Hulle gee van hulle tyd, staan die kinders in moeilike oomblikke by en help om mooi herinneringe saam met hulle te maak.”

“Dit is ʼn voorreg om vir hierdie kinders iets te beteken: ʼn skouer om op te leun, ʼn helpende hand en ʼn veilige plek waar ʼn kind gesien en waardeer voel,” sluit Sina af.

Die huisouers van Abraham Kriel Kinderhuis Nylstroom versorg die kinders in vennootskap met God, met die wete dat Hy elke kind met ʼn doel geskape het. Soos Jesus in Lukas 9:48 sê: “Wie hierdie kindjie in my Naam ontvang, ontvang My.”

Deur hulle daaglikse sorg, teenwoordigheid en liefde maak ons huisouers ʼn blywende verskil in die lewens van die 170 kinders in Abraham Kriel Kinderhuis Nylstroom.

Ondersteun Ons