Annie le Roux – ʼn hart vir mense, ʼn hand vir elke taak


Vir baie mense by Abraham Kriel Kinderhuis Nylstroom is Annie le Roux beter bekend as “Anna Patat”. Dié bynaam weerspieël haar hulpvaardigheid, lojaliteit en kalmte, asook haar bereidwilligheid om altyd in te spring waar sy nodig is.

“Ek het in Oktober 2003 deel geword van die Abraham Kriel Kinderhuis Nylstroom se storie. Oor meer as twee dekades het ek in verskillende rolle gegroei, nuwe verantwoordelikhede opgeneem en agter die skerms gehelp om dinge aan die gang te hou.”

Oor die jare het Annie georganiseer, bemarkingswerk gedoen, finansies hanteer, funksies help reël en mense ondersteun. Haar grootste bydrae lê egter nie net in die take wat sy verrig nie, maar ook in die manier waarop sy mense bystaan, raaksien en belangrik laat voel.

“Ja, almal is in ʼn pos vervangbaar, maar niemand kan vervang wat jy as mens tot die werk bydra nie,” skerts sy.

Volgens Gerda van der Merwe, uitvoerende hoof van Abraham Kriel Kinderhuis, is “Anna Patat” meer as net ʼn bynaam: “Dit het ʼn identiteit geword – ʼn naam wat mense met veiligheid, hulp en lojaliteit verbind.”

Ná jare se diens kyk Annie terug op ʼn pad waarin sy nie net haar werk gedoen het nie, maar ook werklik ʼn verskil gemaak het: “Ek is daagliks deel van ons personeel en ons kinders se stories, en dit lê my na aan die hart om hulle laste in moeilike tye te help dra.”

Daar sal altyd net een “Anna Patat” wees: die vrou met die sagte hart, die sterk skouers, die oë wat altyd glimlag, en die besondere vermoë om ander belangrik te laat voel.

Ondersteun Ons