Kinderhuisfees 2026 wys wat die gemeenskap kan doen


Die Abraham Kriel Kinderhuis Nylstroom was op Saterdag, 13 Junie 2026, die middelpunt van gemeenskapsgees toe besoekers, uitstallers, kunstenaars, borge en vrywilligers vir die jaarlikse AKK-fees saamgetrek het.

Volgens AKK-feesorganiseerder Annie le Roux was die dag ʼn groot sukses.

“ʼn Fees soos hierdie vra baie voorbereiding, maar wanneer jy sien hoe mense van heinde en verre opdaag, saamkuier en die kinderhuis ondersteun, weet jy al die beplanning was die moeite werd,” het Le Roux gesê.

Besoekers is deur die loop van die dag met musiek en ander optredes vermaak, en kon ook die verskeie stalletjies ondersteun en aan wegneemetes smul. Hoogtepunte van die dag was beslis die Diversity Line Dancers, met 47 dansers van die kinderhuis, asook die toneelstuk Show on the Roadmet die boodskap “Every Life Matters”, wat deur tien van ons inwoners opgevoer is. Die program is verder aangevul deur opkomende plaaslike kunstenaars het ook hul talent gedeel, waarna Bernice en Jannie du Plessis die dag met warmte, energie en vrolikheid afgerond het.

Vir Gerda van der Merwe, uitvoerende hoof van Abraham Kriel Kinderhuis, was die fees meer as net ʼn lekker kuierdag: “Die AKK-fees herinner ons daaraan dat ons nie alleen staan nie. Die ondersteuning van die gemeenskap help ons om voort te gaan met die werk wat ons elke dag vir die kinders doen.”

Teen die einde van die dag was die terugvoer oorweldigend positief. Besoekers en uitstallers het die fees beskryf het as “fantasties”, “beter as verlede jaar” en “ʼn onvergeetlike dag”.

“Elke besoeker, uitstaller, kunstenaar, borg en vrywilliger het ʼn aandeel in hierdie sukses. Julle ondersteuning beteken vir ons kinders meer as wat woorde kan sê,” het Van der Merwe afgesluit.

Die AKK-fees 2026 was ʼn dag van saamkuier, mooi herinneringe en saamstaan vir ʼn groter doel.

Tot volgende jaar, wanneer ons julle graag weer by ons fees verwelkom!

Ondersteun Ons