ʼn Knoop van hoop vir die winter, deur Annie le Roux


Soos die dae korter raak en die nagte langer word, maak die winter sy teenwoordigheid bekend. Die ysige wind waai om die hoeke van die kinderhuis, die laaste herfsblare dwarrel grond toe, en ons trek ons jasse stywer om ons lywe om die koue buite te hou.

En dan, op ʼn koue oggend, wanneer ʼn mens jou jas wil toeknoop, sien jy dit raak: daar is ʼn knoop weg.

Net soos met ʼn jas, gebeur dit soms ook in die lewe. Met verloop van tyd kan van die knope wat ons bymekaar hou – hoop, moed, geduld, geloof of die wete dat iemand omgee – losraak of verlore gaan. Wanneer daardie knope ontbreek, voel die bibberweer van die lewe soveel kouer.

Vir baie van ons kinders beteken hierdie knope van hoop ook iets baie prakties: ʼn warm bord kos, ʼn winterjas, ʼn kombers of ʼn paar skoene wat klein voetjies teen die winterkoue beskerm. Dit is eenvoudige dinge, maar vir ons kinders kan dit die verskil tussen moedeloosheid en hoop beteken.

Hierdie winter word ons almal herinner dat omgee nie altyd groot gebare hoef te wees nie. Soms is dit juis die kleinste daad: ʼn kledingstuk wat geskenk word, ʼn maaltyd wat gedeel word, ʼn vriendelike woord of ʼn helpende hand. Só word ʼn knoop van hoop in iemand anders se lewe vasgewerk.

Mag hierdie winter vir elkeen van ons ʼn geleentheid wees om die draad van omgee sterker te maak, dankbaarheid uit te leef en warmte met ander te deel. Want soms word die kleinste gebaar juis die knoop van hoop wat iemand help om deur die winter te kom.

Mag hoop, omgee en dankbaarheid hierdie winter styf vas bly sit..

Indien jy hierdie winter ʼn verskil in ons kinders se lewens wil maak, kan jy jou donasie direk inbetaal in ons  bankrekening.

Vir enige navrae rakende die skenking van klere of goedere kan jy gerus ʼn e-pos stuur na [email protected].

Ondersteun Ons