
Bakprojek leer kinders praktiese vaardighede
Sowat ses kinders van Abraham Kriel Kinderhuis Nylstroom kry deur ʼn bakprojek by die Abraham Koffiewinkel die geleentheid om praktiese kombuisvaardighede aan te leer. Die projek word deur Gerda van der Merwe behartig en gaan oor veel meer as net bak. Die kinders leer om instruksies te volg, saam te werk en trots te wees op iets wat hulle self gemaak het.
Die groep het aanvanklik met eenvoudige kolwyntjies begin, maar bak vandag reeds ystervarkies, melkterte, groot koeke en malvapoeding. Volgens Gerda is die kinders se vordering duidelik sigbaar: “Dit is ons tweede groep van ses kinders wat aan die projek deelneem, en is dit vir ons ongelooflik om te sien hoe hulle ontwikkel: van die afmeet en meng van die bestanddele tot die trots op hulle gesigte wanneer hulle die eindproduk sien.”
Dié projek bied die kinders ook die geleentheid om basiese maar belangrike vaardighede aan te leer. Hulle leer om resepte te lees, bestanddele korrek af te meet, die oond se temperatuur dop te hou en verantwoordelik met warm panne en kombuistoerusting te werk.
Nie elke bakdag verloop vlot nie. Soms rys ʼn koek nie of moet die beslag weer van voor af aangemaak word. Vir Gerda is dit deel van die leerproses. “Opgee is nie deel van die resep nie,” sê sy. “Ons leer om weer te probeer, oplossings te soek en ook om saam te lag wanneer dinge nie heeltemal volgens plan verloop nie.”
Uiteindelik gaan dit nie net oor die gebak wat uit die oond kom nie. Die projek wys hoe ʼn eenvoudige aktiwiteit soos bak in ʼn waardevolle leergeleentheid kan verander waarin kinders vaardighede, verantwoordelikheid en deursettingsvermoë ontwikkel.
