Tshwantsho Matshabi glo elke kind verdien om raakgesien te word


Wanneer ʼn kind se gedrag van seer en moeilike omstandighede getuig, is daar mense soos Tshwantsho Matshabi wat verder as die gedrag kyk en probeer vasstel wat daaragter lê. Sy is sedert 1 Augustus 2016 ʼn maatskaplike werker by Abraham Kriel Kinderhuis in Modimolle en glo dat elke kind moet met begrip, waardigheid en deernis benader moet word.

“Wanneer jy met kinders en jongmense werk, besef jy gou dat die werk nie oor jouself gaan nie,” sê Tshwantsho. “Dit gaan daaroor om elke kind met empatie en begrip te benader en sy of haar unieke omstandighede in ag te neem.”

Volgens haar is een van die belangrikste aspekte van maatskaplike werk om ʼn veilige ruimte te skep waar kinders kan ontdek wie hulle is en weer in hul eie waarde kan glo. Sy sê ʼn kind se gedrag getuig dikwels van die seer en uitdagings wat hy of sy al moes deurmaak.

“Ons keur skadelike gedrag nie goed nie, maar probeer altyd die waarde van die kind agter daardie gedrag raaksien,” sê sy.

Vir Tshwantsho beteken die werk dat sy kinders nie net deur moeilike tye begelei nie, maar hulle ook help om met groter hoop en selfvertroue die toekoms tegemoet te gaan. “My gebed is dat God ons steeds sal lei en versterk sodat ons ʼn betekenisvolle verskil in die lewens van die kinders in ons sorg kan maak,” sê sy.

Haar woorde herinner ons daaraan dat maatskaplike werk juis in die klein, alledaagse oomblikke gestalte kry: deur te luister, te verstaan en elke kind met waardigheid te behandel.

Ondersteun Ons