Taylor van Staden glo ʼn moeilike begin hoef nie jou toekoms te bepaal nie


Taylor van Staden het in moeilike omstandighede grootgeword en is later, op aanbeveling van ʼn maatskaplike werker, by Abraham Kriel Kinderhuis Nylstroom opgeneem.

“Aanvanklik was dit vir my moeilik om te verstaan waarom dit moes gebeur. Ek het nie besef dat hierdie verandering uiteindelik een van die belangrikste keerpunte in my lewe sou wees nie,” vertel Taylor.

Sy kon mettertyd by die roetine van die kinderhuis aanpas. Vir die eerste keer kon sy eenvoudig net kind wees, op haar skoolwerk fokus, vriende maak en haarself beter leer ken.

Taylor sê mense voel dikwels jammer vir kinders wat in ʼn kinderhuis grootword, maar haar eie ervaring van die kinderhuis was heel anders. “Vir my was dit ʼn plek van veiligheid, groei en nuwe geleenthede. Ek het baie daar geleer en as ʼn sterker, meer selfstandige mens daar uitgestap.”

Die ondersteuning het ook nie opgehou toe sy matriek voltooi en die kinderhuis verlaat het nie. Die kinderhuis het haar steeds bygestaan deur vir haar ʼn veilige heenkome te help verseker en die geleentheid te gee om verder te studeer.

Vandag het Taylor ʼn graad in Onderwys en werk sy as hoërskoolonderwyseres. Sy is ook aktief in sport, doen CrossFit, neem aan kompetisies deel en is ʼn afrigter by FitRise360.

“Ek het die geleentheid gekry om te studeer, ʼn beroep te volg waarvoor ek lief is, met kinders te werk en ander mense deur sport en afrigting te inspireer,” sê sy. Vir Taylor is dit ʼn bewys dat ʼn mens se verlede nie jou toekoms hoef te bepaal nie: “My storie word nie bepaal deur die omstandighede waaruit ek gekom het nie, maar deur die keuses wat ek gemaak het en die pad wat ek daarna gekies het.”

Haar verhaal wys hoe belangrik dit is dat kinders veiligheid, ondersteuning en mense het wat hulle help om nuwe moontlikhede raak te sien.

Ondersteun Ons