Talentaand 2026 – op reis om die wêreld


Die kinders van Abraham Kriel Kinderhuis Nylstroom het op 15 Augustus 2026 die gehoor geboei tydens hul jaarlikse talentaand, Die wêreld is ons verhoog.

Die tema van die aand was “Lande”, en elke groep het ʼn land op ʼn unieke manier uitgebeeld. Met musiek, dans, kostuums en kreatiewe optredes het die kinders gewys hoeveel voorbereiding, moed en entoesiasme die aand geverg het.

Charnel Oberholzer, organiseerder van die talentaand, is van mening dat die talentaand veel meer as net ʼn vertoning was. “Dit was ʼn viering van ons kinders, van wie hulle is, wat hulle kan doen en hoe kinders kan blom wanneer hulle raakgesien en ondersteun word,” sê sy.

Die gaste is met piekniekbokse bederf wat spesiaal deur die Abraham Kriel Bakskool voorberei is en tot die warm, feestelike atmosfeer van die aand bygedra het.

Een van die mees aangrypende oomblikke was die afsluiting met “We Are the Children”. Die kinders het rondom die gehoor bymekaargekom en dit het baie van die gaste diep geraak.

Die aand sou nie moontlik gewees het sonder die kinders, personeel, helpers en ondersteuners wat saamgewerk het nie. “Ons is ongelooflik trots op elke kind wat op die verhoog was. Elke danspassie, elke glimlag, elke lied en elke oomblik van moed het gewys dat ons kinders, wanneer hulle ʼn kans kry om te skitter, die wêreld kan verander.”

Die aand het bevestig dat die wêreld inderdaad hul verhoog is en dat elke kind die kans verdien om raakgesien te word.

Ondersteun Ons