
Kersfees in Julie gee personeel kans om saam asem te skep
Die personeel van Abraham Kriel Kinderhuis Nylstroom het onlangs saam Kersfees in Julie gevier. Die geleentheid wat deur Annie le Roux gereël is, het ontstaan uit haar droom van ʼn wit Kersfees.
Die saal is feestelik versier met ʼn Kersboom, keurig gedekte tafels en heerlike eetgoed wat spesiaal deur die kinderhuis se kombuis voorberei is.
Omdat die personeel van Abraham Kriel Kinderhuis daagliks met kinders se behoeftes, seer en unieke uitdagings werk, is sulke geleenthede besonder belangrik. Dit gee kollegas die geleentheid om weg van die gewone werksdruk saam te kuier en weer nuwe moed te skep vir die werk wat voorlê.
Die oorspronklike droom van sneeu en ʼn regte wit Kersfees bly dalk nog iets vir eendag. Intussen het dié oggend gewys hoeveel waarde daar in eenvoudige oomblikke lê. “En totdat daardie dag aanbreek, sal ons maar ons eie stukkie Winterkersfees in Julie vier, met baie liefde, lekker kos, lag en vriendskap, saam met die mense wat Abraham Kriel Kinderhuis ʼn besondere plek maak.”
Uiteindelik het die oggend nie soseer om die tema gedraai nie, maar om die mense: personeel wat daagliks soveel van hulself gee en wat erkenning en waardering verdien.
