Cassey Stehouwer – van Abraham Kriel-kind tot regstudent


Cassey Stehouwer, ʼn voormalige inwoner van Abraham Kriel Kinderhuis Nylstroom, is ʼn merkwaardige voorbeeld van hoe stabiliteit, ondersteuning en harde werk ʼn jongmens se lewenspad kan verander.

Sy het in Februarie 2019 by die kinderhuis aangekom en die oorgang was aanvanklik moeilik. Cassey is die tweede oudste van vier kinders, en twee van haar broers en susters woon steeds in die kinderhuis.

“Ek het gemengde gevoelens gehad oor my plasing,” vertel Cassey. “Hierdie omstandighede het die oorgang emosioneel uitdagend gemaak.”

Met verloop van tyd het Abraham Kriel Kinderhuis Nylstroom vir haar ʼn plek van veiligheid, struktuur en groei geword. Volgens Cassey het die leiding en waardes wat sy daar ontvang het ʼn groot rol in haar persoonlike en akademiese ontwikkeling gespeel: “Die kinderhuis het ʼn bepalende invloed op my ontwikkeling gehad en my gehelp om sterk waardes, dissipline en doelgerigtheid te ontwikkel.”

In Oktober 2025 het Cassey die voorreg gehad om aan ʼn Academic Achievers -toer oorsee deel te neem. Die ervaring het haar horisonne verbreed en haar drome vir die toekoms verder aangewakker.

Sy het vanjaar ʼn nuwe hoofstuk begin en studeer tans regte aan Akademia in Pretoria. Haar doel is om haar studies eendag tot voordeel van ander aan te wend. “Ek hoop om eendag die reg te gebruik om kinders en jongmense in moeilike omstandighede te help,” sê Cassey.

Met selfvertroue, dissipline en vasberadenheid stap Cassey nou haar toekoms tegemoet.

Cassey se verhaal is een van vele suksesverhale wat getuig van die liefde, leiding en ondersteuning wat ons kinders daagliks van die bekwame personeel van Abraham Kriel Kinderhuis Nylstroom ontvang. Die kinderhuis se vriende en ondersteuners speel ook ʼn belangrike rol in hierdie verhale. Met hul maandelikse bydraes help hulle om ʼn veilige omgewing te skep waar kinders na liggaam en gees kan herstel, kan groei en weer met hoop na die toekoms kan kyk.

Ondersteun Ons