Every Life Matters gee 4 000 kinders ʼn boodskap van hoop


Sedert Kinderbeskermingsweek (29 Mei tot 5 Junie 2026) het die Every Life Matters toneelstuk reeds sowat 4 000 kinders by verskillende skole bereik met ʼn eenvoudige maar kragtige boodskap: elke kind se lewe het waarde.

Show on the Road het vroeër vanjaar begin toe 17 kinders van Abraham Kriel Kinderhuis Nylstroom, onder leiding van die akteur Louis Minnaar, ʼn dramaproduksie vir Kinderbeskermingsweek op die planke gebring het.

Vir Charnel Oberholzer, projekkoördineerder, was dit ʼn besondere projek. “Elke vertoning was vir my ʼn geleentheid om die kinders daaraan te herinner dat hulle gesien word en dat hul lewe saak maak,” sê sy.

Volgens Charnel was die reaksie van kinders by skole besonder waardevol. “As net een kind wegstap met die wete dat hy of sy belangrik is, dan was elke kilometer, elke uur se voorbereiding en elke uitdaging die moeite werd.”

Sy gee ook erkenning aan Louis Minnaar se rol in die projek. “Louis het hom met hart en siel aan hierdie projek gewy. Van die eerste dag af was hy bereid om sy tyd, kennis en ervaring te deel.”

Charnel wil graag op die sukses van die projek voortbou, en die beplanning vir die Christmas Road Show is reeds in volle swang. “Die doel is om gedurende die feestyd nog meer mense met ʼn boodskap van liefde, hoop en vreugde te bereik,” sê sy.

Vir Charnel bly die kernboodskap eenvoudig: “Jy maak saak. Jou lewe het waarde. En jou toekoms is vol moontlikhede.”

Ondersteun Ons