
Ronel Schwarts – 18 jaar van sorg uit die kinderhuis se kombuis
Ronel Schwarts is sedert 2008 deel van Abraham Kriel Kinderhuis Nylstroom en het oor die jare ʼn bekende gesig geword. Sy het in die kombuis begin, waar sy steeds daagliks met sorg etes vir die kinders voorberei.
“Vir my is kosmaak nog altyd ʼn manier om vir iemand te wys ek gee om,” sê Ronel.
Met die jare het haar liefde vir kosmaak net sterker geword. Vandag leef sy dit verder uit deur gevriesde maaltye voor te berei en beskuit te bak wat sy deur haar klein onderneming, Warm Hart Etes, verkoop..
“Ek glo kos bring mense bymekaar,” sê sy. “As iemand iets eet wat met liefde gemaak is, voel hulle sommer ʼn bietjie meer tuis.”
Ronel se omgee kom ook in ander klein gebare na vore. Sy bak gereeld verjaarsdagkoeke vir kinders en personeel en help só om spesiale oomblikke werklik besonders te maak.
Ná 18 jaar is Ronel steeds ʼn gewaardeerde lid van die kinderhuis se personeel. Haar bydrae lê nie net in die kos wat sy maak nie, maar in die sorg waarmee sy dit doen.
“Ek is dankbaar dat ek op my manier iets vir die kinders en personeel kan beteken,” sluit sy af.
