
Fietsry-afrigting gee Abraham Kriel-kinders selfvertroue
Tien kinders van Abraham Kriel Kinderhuis Nylstroom ontvang sedert Mei 2026 fietsry-afrigting by Johan Joubert Coaching. Hulle oefen saam met ander kinders uit die gemeenskap en toon reeds goeie vordering. Die positewe uitwerking daarvan is ook duidelik in hulle gedrag en groeiende selfvertroue.
“Dit is ʼn voorreg vir my om by die kinders van Abraham Kriel Kinderhuis betrokke te wees,” sê Johan Joubert.
Volgens hom gaan die afrigting oor veel meer as net fietsry. Dit skep ʼn veilige ruimte waar kinders nuwe vaardighede kan aanleer, dissipline kan ontwikkel en deel van ʼn positiewe sportomgewing kan wees.
“Wanneer ons hierdie kinders in ʼn veilige omgewing en met betroubare fietse afrig, sien ons hoe hulle verander,” sê Johan. “Hulle leer hoe om strategies te dink, probleme op te los, verantwoordelikheid vir hulle toerusting te aanvaar en goeie verhoudings binne die sport te bou.”
Die projek word moontlik gemaak deur die ondersteuning van die gemeenskap. Skenkings van fietse, toerusting, asook hulp met herstelwerk en instandhouding, stel ons kinders in staat om gereeld deel te neem. Raai van Jimmy’s Cycle and Sport help ook deurlopend met die instandhouding van die fietse.
Die afrigting vind op die terrein van Abraham Kriel Kinderhuis plaas, waar Johan reeds begin het om ʼn fietsrybaan te bou. Die baan bied die kinders die geleentheid om verskillende hindernisse aan te pak en hul vaardighede op ʼn veilige manier te verbeter.
Daar is egter nog ruimte om die baan verder uit te brei. Die kleuters by die kinderhuis kry ook reeds afrigting, maar oefen tans op fietse wat nie heeltemal vir dié doel geskik is nie.
Ondersteuning om die projek verder uit te brei, sal opreg waardeer word. Benodigdhede soos sand, palette, ou bande en fietsrytoerusting kan geskenk word, terwyl hulp met arbeid of ʼn geldelike bydrae vir die aankoop van kleuterfietse ook welkom is.
Indien jy graag die projek wil ondersteun, stuur gerus ʼn e-pos aan [email protected].
