Van parkrun tot nasionale atletiekbyeenkoms


Wat op laerskool as ʼn belangstelling in draf begin het, het vir Shemondre Southon en Faith Mocheki van Abraham Kriel Kinderhuis Nylstroom tot deelname aan ʼn nasionale atletiekbyeenkoms gelei.

Shemondre en Faith se liefde vir atletiek het reeds gedurende hul laerskooljare by Laerskool Nylstroom begin. Met hul skuif na Hoërskool Nylstroom het hulle by die skool se atletiekspan aangesluit, waar gereelde oefensessies en deelname aan kompetisies hulle die geleentheid gebied het om hul talent en vaardighede verder te ontwikkel.

“ʼn Belangrike deel van ons voorbereiding was die weeklikse parkrun, waaraan ons elke Saterdagoggend deelgeneem het. Ons het onsself uitgedaag om ons vorige tye te verbeter en as ons dit reggekry het het dit ons selfvertroue ook ʼn hupstoot gegee,” sê Faith.

Hul belangstelling het later ook na landloop uitgebrei, waar langer afstande en strawwer kompetisie nuwe uitdagings gebied het. Maande se voorbereiding, vroeë oggende en volgehoue oefening het uiteindelik vrugte afgewerp toe hulle die geleentheid gekry het om op nasionale vlak mee te ding.

Een van die hoogtepunte was hul deelname aan ʼn ASA-atletiekbyeenkoms by Curro Hazeldean in Pretoria. Hier het hulle saam met atlete uit verskillende provinsies deelgeneem en waardevolle ondervinding opgedoen.

“Dit was ʼn lang en uitputtende dag, maar ook een vol opwinding en nuwe ervarings. Om daar te kon deelneem, het ons laat besef hoe ver ons reeds gekom het sedert ons eerste wedlope op laerskool,” vertel Shermondre.

Shemondre en Faith skryf hul vordering ook toe aan die ondersteuning van hul afrigters, onderwysers, huisouers en vriende wat hulle deurgaans aangemoedig het.

Vir hierdie twee dogters is hul prestasies tot dusver maar net die begin. Hul verhaal wys dat deursettingsvermoë, harde werk en die moed om nuwe uitdagings aan te pak, deure kan oopmaak na geleenthede wat eens buite bereik gelyk het. Met hul visier reeds op 2027 gerig, is dié dogters vasbeslote om aan te hou hardloop, hul grense te verskuif en nuwe hoogtes te bereik.

Ondersteun Ons