
Skoolverlaters vertrek op hul volgende lewensreis
Elf skoolverlaters van Abraham Kriel Kinderhuis Nylstroom is op 15 Oktober tydens ʼn besondere afskeidsfunksie by Tsekama vereer. Die inspirasie vir die funksie was vanjaar se talentaandtema: “Die wêreld is ons verhoog!” Elke skoolverlater het ʼn ander land verteenwoordig, en die onthaalruimte is soos ʼn lughawe ingerig om die jongmense se simboliese reis na volwassenheid uit te beeld.
Van vlaggies met leidrade wat aan toutjies opgehang is tot houtdeure wat spesiaal gebou moes word – elke detail het deeglike beplanning geverg. Met die hulp van Kobus Swanepoel, die eggenoot van een van die kinderhuis se huisouers, is daar selfs ʼn vliegtuig vir die geleentheid gebou.
Die skoolverlaters het in styl opgedaag en is met sang en groot opgewondenheid verwelkom. “Toe die seuns en meisies met die trappe opkom, kon ʼn mens die gesamentlike ‘WOW!’ hoor. Dit was ʼn oomblik waarop ons almal trots kon wees,” vertel Annie.
Nadat hulle hul instapkaartjies ontvang het, het hulle deur die vertrekhek na die vliegtuig beweeg.
Ds. Wolhuter het die verrigtinge geopen, waarna Sonika Cornelius, Tshwantso Matshabi, Maria Venter en Charnel Oberholzer, almal maatskaplike werkers by die kinderhuis, bemoedigende boodskappe met die jongmense gedeel het.
Die formele program het later plek gemaak vir musiek en dans, en personeellede het ook by die feestelikhede aangesluit het.
Gerda van der Merwe, uitvoerende hoof van die kinderhuis, het die skoolverlaters sterkte toegewens met hul komende eindeksamens en hulle aangemoedig om die toekoms met moed en selfvertroue aan te pak.
“Ons skoolverlaters staan nou op die drumpel van ʼn nuwe lewensfase. Die kinderhuis wens hulle alle voorspoed toe met die geleenthede en uitdagings wat op hulle wag,” het Gerda afgesluit.
Let wel: Die gesigte van minderjariges is verdof om hul privaatheid te beskerm.
