
Ons kinders neem aan heldedagviering deel
ʼn Groep seuns en dogters van Abraham Kriel Kinderhuis Nylstroom het op Saterdag 10 Oktober 2026 aan die plaaslike heldedagviering deelgeneem. Tydens die geleentheid is volkshelde en -heldinne uit die verlede met ʼn kranslegging by ʼn monument herdenk.
Ter voorbereiding van die geleentheid het die kinders gehelp om die kinderhuis se Heldelaan skoon te maak en nuwe plante aan te plant. Hulle het só nie net ʼn praktiese bydrae gelewer nie, maar ook meer oor die geskiedenis en betekenis van die herdenking geleer.
Die oorsprong van die plaaslike heldedagviering hou verband met die geboortedag van oudpresident Paul Kruger op 10 Oktober 1825. Die dag het vroeër as Krugerdag bekend gestaan, maar die herdenking het mettertyd uitgebrei om ook ander volkshelde en -heldinne te vereer.
“Dit is vir ons belangrik dat ons kinders aan sulke geleenthede deelneem. Dit bied hulle die kans om meer oor ons land se geskiedenis te leer en te verstaan waarom dit belangrik is om ons erfenis vir toekomstige geslagte te bewaar,” sê Gerda van der Merwe, uitvoerende hoof van die kinderhuis.
Vir die kinders was dit ʼn kans om geskiedenis buite die klaskamer te beleef en deel te wees van ʼn tradisie wat steeds deur die plaaslike gemeenskap voortgesit word.
