Alda Ellis groet ná 11 jaar by die kinderhuis


Om tienerdogters deur hul grootwordjare te begelei, bring sy eie uitdagings, maar ook onvergeetlike oomblikke. Dit is veral die hegte bande, klein oorwinnings en kosbare herinneringe wat Alda Ellis sal saamneem wanneer sy ná net meer as ʼn dekade as huisma by Abraham Kriel Kinderhuis Nylstroom aftree.

“Ons moes mekaar leer ken, mekaar vind en verstaan, en leer om saam te werk. Soos die jare verbygegaan het, het ons saam gegroei,” vertel Alda.

Van sterrekyk en saam bak tot dans, swem op koue aande en lang uitstappies – dit is veral hierdie kosbare oomblikke saam wat sy sal onthou.

Een van haar trotste oomblikke was toe al die dogters in haar huis hul skooljaar geslaag het.

“Dit is ʼn pad wat jy saam met elke kind stap. Jy moedig hulle aan, ondersteun hulle en leer hulle om in hulself te glo,” sê sy.

Die hoogtepunt van haar loopbaan was egter die hereniging van kinders met hul families. “Om die vreugde op ʼn ouer se gesig te sien en die woorde ‘My kind is tuis!’ te hoor – dít sal ek nooit vergeet nie.”

Met haar aftrede sien Alda daarna uit om meer tyd saam met haar kleinkinders deur te bring en die rustigheid van die plaaslewe te geniet. Sy erken egter dat sy die stilte van die Bosveld en die mense by die kinderhuis gaan mis.

“Ek neem nie net afskeid van ʼn werkplek nie, maar sluit ook ʼn hoofstuk van my lewe af wat ek altyd met liefde en dankbaarheid sal onthou.”

Abraham Kriel Kinderhuis Nylstroom bedank Alda vir haar jarelange, toegewyde diens en die liefdevolle sorg waarmee sy die dogters in haar huis begelei het. Ons wens haar alles van die beste toe vir die jare wat voorlê.

Ondersteun Ons