Van Wettens-gholfdag samel meer as R100 000 vir kinderhuis in


Tydens Van Wettens se jaarlikse gholfdag wat op 15 Oktober 2026 by Mbombela Gholfklub plaasgevind het, is meer as R100 000 ten bate van Abraham Kriel Kinderhuis Nylstroom ingesamel.

Dit is die tweede agtereenvolgende jaar dat Van Wettens die kinderhuis as begunstigde van dié geleentheid gekies het. “Dit was besonders om te sien hoe spelers, borge en ondersteuners saamstaan vir ons kinders. Elkeen se deelname en bydrae het gehelp om hierdie fondsinsameling ʼn groot sukses te maak,” sê Marlene de Villiers, bemarker van Abraham Kriel Kinderhuis Nylstroom.

Marlene het 400 kilometer na die Laeveld gereis om die geleentheid by te woon en die skenkers persoonlik te bedank.

“Ons is besonder dankbaar vir hierdie ruim skenking. Dit help ons nie net om in ons kinders se daaglikse behoeftes te voorsien nie, maar ook om die terapie en berading te bied wat hulle nodig het om die trauma van hul verlede te verwerk,” sê Marlene.

Die kinderhuis bedank Wim van Wetten, die hele Van Wettens-span, organiseerders, borge en spelers, asook elkeen wat die veiling ondersteun het. Danksy hul vrygewigheid en betrokkenheid strek die sukses van hierdie gholfdag veel verder as die gholfbaan en maak dit ʼn betekenisvolle verskil in die lewens van die kinderhuis se 170 kinders.

Ondersteun Ons