Kinderhuis vereer kinders by prysuitdeling
Ons jaarlikse Abraham Kriel Kinderhuis-prysuitdeling op 24 Oktober was vir soveel van ons kinders weer ʼn geleentheid om na uit te sien.
Hoewel daar by ons kinders se onderskeie skole prysuitdelings gehou word, is dit vir ons belangrik om hulle tuis ook te vereer. In teenstelling met kinders uit stabiele huishoudings, kom van ons kinders uit omstandighede waar hulle met fisieke en/of emosionele letsels gelaat is. In sommige gevalle het hierdie omstandighede ook ʼn impak op hoe hulle by die skool presteer.
Om hierdie rede is dit vir ons belangrik om ook aan die tuisfront erkenning aan ons kinders te gee. Ons beloon hulle vir veel meer as net hulle akademiese prestasies; by ons kry hulle erkening vir persoonlike en emosionele groei, asook die suksesvolle ontwikkeling van lewensvaardighede.
Dit is vir ons ʼn besondere voorreg om jaar in en jaar uit ʼn pad saam met hierdie kinders te stap. Dit kan ons alleen doen met die hulp van ons lojale skenkers wat ons finansieel bystaan om ons kinders te help en aan te moedig om hulle volle potensiaal te bereik.