
Seevakansie 2023
Soos in 2022, is die Abraham Kriel Kinderhuis weer deur die Amy Bell-stigting bederf met ʼn ongelooflike seevakansie in Summerstrand, Gqeberha.
Vyf-en-vyftig van ons kinders wat ongelukkig nie die vakansie huis toe kon gaan nie, was saam see toe. PHASA het die brandstof geborg en goedhartige individue het gesorg vir padkos en bederfpakkies. Talle nuwe kinders is in Desember in die kinderhuis opgeneem en die vooruitsig op ‘n vakansie kon hulle hul fokus van verlies van familie verskuif na pret onder die somerson.
Ons kinders het die geleentheid gehad om ʼn film by Nu-Metro teaters te kyk, en die waterpark en Gravity-springmatsentrum te besoek. Tussendeur het die Amy’s Angels die kinders met speletjies besig gehou. ʼn Uitreik na die Cheshire Huis vir Gestremdes het ons kinders laat besef hoe bevoorreg hulle is.
ʼn Besonderse woord van dank aan Irvin Tam, direkteur van die Amy Bell-stigting in Suid Afrika, vir die wonderlike vakansie!
