
Glans en dans vir Abraham Kriel Kinderhuis matrikulante!
“My grootste droom is om sukses in die lewe te behaal sodat ek minderbevooregte mense kan help,” sê Micayla, ʼn 19-jarige matrikulant wat reeds een van die grootste mylpale op die pad na sukses bereik het. Sy is in haar matriekjaar en sien baie uit na haar matriekafskeid. Micayla is een van die jongmense by Abraham Kriel Kinderhuis wat hierdie jaar hul skoolloopbaan sal voltooi.
Nelly, Paballo, Micayla en Gift is opgewonde om die volwasse lewe aan te pak. Twintigjarige Nelly besluit nog wat sy in die toekoms wil doen, terwyl agtienjarige Gift met diere wil werk. Micayla gaan gasvryheid studeer, en Paballo is nog nie seker wat presies sy wil doen nie. Elke kind het spesiale dinge waarin hulle belang stel. Die ruimte met sy sterre en planete fassineer Micayla en Paballo het ʼn passie vir musiek en dans. Alhoewel hierdie vier matrikulante uiteenlopende belangstellings het, het hulle een ding in gemeen: almal is opgewonde om hul matriekafskeid te vier!
Gift en Micayla sal matriek by Hoërskool Nylstroom voltooi, en Paballo en Nelly by die Solomon Mahlangu Secondary School. Vir elkeen sal hierdie aand ʼn simbool wees van die moeilike pad wat hulle tot dusver gestap het. Kinderhuiskinders kom dikwels uit omgewings waar hulle nie liefde en ondersteuning ontvang het nie. Fisieke en emosionele letsels maak dikwels die pad vorentoe baie moeilik. Dat hulle matriek ten spyte hiervan gaan voltooi, is reeds ʼn groot prestasie en bewys dat hulle, ondanks moeilike omstandighede, sukses kan behaal.
Om Nelly, Micayla, Gift en Paballo se groot aand spesiaal te maak, het Abraham Kriel Kinderhuis die ondersteuning van sy vriende nodig. Die jongmense se klere, skoene, naels, juwele en grimmering beloop sowat R24 000, of R6 000 per persoon. Abraham Kriel Kinderhuis doen dus ʼn beroep op sy netwerk van vriende om ʼn bydrae vir hierdie aand te maak. ʼn Aand wat nie net ʼn enkele geleentheid is nie, maar ʼn stap op ʼn groter pad wat deur uitdagings na triomf lei!
