
Abraham Kriel-kinders is sosiale media-vaardig
Ons kinders by Abraham Kriel Kinderhuis beleef, soos ander kinders, ʼn tyd waarin sosiale media ʼn integrale deel van hul daaglikse bestaan is. Ons streef daarna om hulle te leer om sosiale media verantwoordelik te gebruik en te bestuur.
Kinders van 14 jaar en ouer mag aansoek doen om ʼn selfoon vir persoonlike gebruik aan te skaf. Voordat hulle egter ʼn selfoon mag besit, word hulle deeglik opgelei in die verantwoordelike gebruik van sosiale media. Gedurende hierdie opleiding word die voordele sowel as die gevare van sosiale media omvattend aan hulle verduidelik.
Om verantwoordbaarheid te verseker, teken die kinders ʼn kontrak saam met hul maatskaplike werker en kinderversorger. Hierdie kontrak sluit riglyne in oor die hoeveelheid tyd wat hulle op sosiale media mag bestee, watter platforms hulle mag gebruik, asook wat as aanvaarbare sosialemedia-etiket beskou word.
Die kinderhuis voorsien internettoegang via Wi-Fi, wat beskerm word deur sekere programme wat verseker dat die kinders nie toegang tot ontoepaslike en gevaarlike inhoud het nie. Alhoewel daar sekere beskermingsmaatreëls in plek is, is dit nie moontlik om sosiale media heeltemal te beheer nie. Wanneer kinders hulle voorregte op sosiale media misbruik of dit op maniere gebruik wat hulself of ander benadeel, kan hul toegang opgeskort word. Hierdie situasies word as leergeleenthede gebruik waar die maatskaplike werkers saam met die kinders weer deur die gevare en moontlike misbruik van sosiale media werk voordat hulle weer toegang kry.
Sommige van ons tieners leer deur ervaring en maak foute op die pad na verantwoordelike sosialemediagebruik. Dit is egter presies waarvoor die beskermde leeromgewing geskep word. Dit bly ons verantwoordelikheid en voorreg om ons kinders in hierdie belangrike lewensvaardigheid te begelei!
Maria Venter
Maatskaplike werker
