Menlopark-studente samel R17 000 vir Abraham Kriel in


Kinders wat kinders help – dit was die resultaat van Hoërskool Menlopark se Sorgweek. Tydens hierdie jaarlikse geleentheid samel Menlopark se leerders fondse in vir verskeie organisasies. Vanjaar het die leerders R17 000 ingesamel vir Abraham Kriel Kinderhuis Nylstroom (AKKN) – 'n pragtige bewys van die krag van die jeug. Op Maandag, 16 September, het Marlene de Villiers, woordvoerder van AKKN, die skool besoek, saam met twee van die kinderhuis se kinders. Die besoek was nie net 'n geleentheid om die leerders te bedank nie, maar ook om vir hulle insig te gee in 'n wêreld buite hul eie.

Soos Willem Botha, 'n wiskunde-onderwyser by die skool en koördineerder van die Sorgkomitee, verduidelik: “In 'n gemeenskap soos ons s'n is ons ongelooflik bevoorreg en sien ons nie dikwels swaarkry en armoede in ons onmiddellike omgewing nie. Daarom glo ek dit is belangrik vir ons kinders om te besef dat daar groot behoefte en baie pyn in die wêreld is. Vir ons skep fondsinsamelingsgeleenthede bewustheid onder ons leerders. Veral tydens geleenthede soos dié van Maandag, wanneer AKKN en die ander organisasies wat deur ons ondersteun word hul stories kom deel, help dit om Menlopark se kinders se horisonne te verbreed.”

Die Sorgweek-inisiatief is inderdaad heeltemal leerdergedrewe. Willem verduidelik dat dit die leerders is wat self met organisasies kontak maak, geleenthede reël en besluit hoeveel hulle uit hul eie sakke wil bydra. “Selfs Maandag se geleentheid is deur die kinders gereël.”

Vir Marlene de Villiers het hierdie soort proaktiewe betrokkenheid deur leerders 'n diepgaande impak. “By die kinderhuis het ons 170 kinders wat getraumatiseer en sonder hoop vir die toekoms by ons aankom. Ek dink jy kan jou indink hoe dit sou voel om uit jou ouerhuis geneem te word, waar die situasie reeds moeilik was, en geplaas te word in 'n vreemde omgewing waar jy niemand ken nie. Dit is dan ons taak om daardie kinders te help om hul volle potensiaal te bereik en vir hulle 'n tweede kans in die lewe te gee,” het Marlene Maandag aan Menlopark se leerders vertel. “Ek wil vir julle dankie sê dat julle ons help om vir hierdie kinders 'n tweede kans te gee – ons het soveel suksesverhale!”

By AKKN vier ons die sterk bande tussen die leerders van Menlopark en die kinders van ons kinderhuis. Dit is bande van empatie, sorg, en 'n diepe waardering vir die voorregte en uitdagings wat elkeen van ons in die lewe te beurt val!

Ondersteun Ons