
Matriekafskeid 2024: Baie geluk aan ons wonderlike presteerders!
Abraham Kriel Kinderhuis Nylstroom is opgewonde om aan te kondig dat die matriekulante van 2024 van Solomon Mahlangu Secondary School en Hoërskool Nylstroom hul matriekafskeid gevier het. Matriekafskeid is ʼn groot aand vir alle Suid-Afrikaanse kinders, maar vir die kinders van Abraham Kriel Kinderhuis is die voltooiing van matriek ʼn besonderse prestasie. Met hul moeilike agtergronde maak dit ons kinders se akademiese suksesse soveel meer spesiaal. Hierdie jaar wou ons seker maak dat hulle werklik voel hoe belangrik hul prestasie is – en hoe ongelooflik hulle is! En ons donateurs het dit moontlik gemaak!
Ons matriekulante het gespog met hulle pragrokke en -pakke; die meisies was asemrowend mooi en die seuns baie deftig. Hulle uitrustings is moontlik gemaak deur skenkers met groot harte wat die dag vir elke matrikulant onvergeetlik gemaak het. Hulle het soos karakters uit ʼn sprokie gelyk! Na afloop van die “Big Brag” by AKKN se eie funksie, het die kinders die geleentheid gekry om ook hulle skoolfunksies by te woon. Dit was ʼn voorreg om deel te wees van die suksesvolle viering van hulle matriekafskeid.
Hierdie jaar se matrikulante is: Micayla Jenkins, Paballo Mochaki, Nelly Dlamini, Melpheus Monyeki, Given Dlamini, Emanuel Tsebe en Gift Thabang. Aan elkeen van hulle sê ons: Welgedaan! Jou toekoms is so helder soos die lig in jou oë! Ons kan nie wag om te sien watter avonture vir julle voorlê nie!
