AKKN se skoolverlatersfunksie 2024: 'n Prettige “Bosfantasie”


Elke jaar het die kinders wat skool verlaat die geleentheid om die AKKN-skoolverlatersfunksie by die kinderhuis by te woon. Die funksie is daarop gemik om elke skoolverlater spesiaal te laat voel. Dit is veral belangrik vir ons kinders wat in LSEN-skole is (leerlinge met spesiale behoeftes). Kinders by LSEN-skole het nie die geleentheid om ʼn matriekafskeid te hê nie, daarom is hierdie aand baie kosbaar vir hulle!

Die personeel van Abraham Kriel reël die funksie wat deel vorm van ʼn formele geleentheid. Soos met ʼn matriekafskeid, dra hierdie kinders ook pragtige rokke en netjiese pakke en het hulle ook ʼn “Big Brag” voor die onthaal begin. Hulle stap dan oor ʼn rooi tapyt en kry die geleentheid kry om saam met hulle broers en susters in die kinderhuis foto’s te neem. Só kry hulle hul “Hollywood”-oomblik om soos ʼn ster te voel!

Ons begroot spesifiek vir die skoolverlatersgeleentheid, maar ons maak staat op donasies vir hierdie kinders se geskenke en bykomende fondse vir die onthaal om die geleentheid so spesiaal moontlik vir hulle te maak.

Vanjaar is ons skoolverlatersfunksie op 15 Oktober gehou. Die kinders het die geleentheid gehad om op ʼn donkiekar na die rooi tapyt te ry, waar hulle huisouers hulle vergesel het na die die fotohoekie – ʼn kosbare deel van hul herinneringe. Na die “Big Brag” het die kinders na die onthaal gegaan waar alles volgens die tema “Forest Fantasy” versier was. Elke maatskaplike werker het die geleentheid gehad om die kinders bekend te stel met hulle “Once upon a time”-verhaal.

Ons hoop dat ons skoolverlaters hierdie aand altyd sal onthou as ʼn hoogtepunt in hul lewens!

Ondersteun Ons