Skoolverlatersfunksie – 'n aand van elegansie gevul met emosie


Die Abraham Kriel Kinderhuis Nylstroom se 2025-skoolverlatersfunksie wat op Donderdagaand 16 Oktober by Tsekama Wedding Venue plaasgevind het, was veel meer as net ʼn elegante aand. Dit was ʼn viering van ons jeug, herinneringe wat hulle hier gemaak het en ʼn nuwe begin vir elkeen. Onder die tema Night at the Oscarshet die geleentheid soos ʼn dromerige Hollywood film ontvou: vol styl, humor, trane en opwinding.

Van die oomblik dat die eerste skoolverlater op die rooitapyt verskyn het, was dit duidelik dat hierdie nie bloot ʼn aand van net mooi uitrustings was nie, maar ʼn eerbetoon aan elke kind. Die jong dames het geskitter in elegante rokke en glinsterende bykomstighede, terwyl die jong mans stylvol in hul pakke verskyn het.

Die saal het die atmosfeer van ʼn Hollywood-première uitgestraal met sagte beligting, rooi blomme en tafeldekor wat van klassieke glans getuig het. Programleier Charnel Oberholzer het die aand met warmte en humor gelei en verseker dat alles vlot verloop.

ʼn Hoogtepunt was die hoofrede deur Gerda van der Merwe, uitvoerende hoof van die kinderhuis, wie se woorde menige oog laat glinster het. Met opregtheid en wysheid het sy erkenning gegee aand die pad wat die skoolverlaters gestap het: hul struikelblokke, groei en oorwinnings. Sy het elkeen aangemoedig om hul toekoms met durf en geloof tegemoet te gaan.

ʼn Roerende oomblik het gevolg toe die maatskaplike werkers hul waardering uitgespreek het vir hierdie jong mense wat gekies het om hulle toekoms self te skryf, ongeag hul verlede. Trane en drukkies is gedeel, maar is daar ook saam gelag oor kosbare herinneringe en grappies wat die jare saam gekleur het.

Ná die formele verrigtinge is die dansvloer geopen met musiek wat van klassieke treffers tot moderne snitte gewissel het. ʼn Aansteeklike gees van viering het die saal gevul. Dit was duidelik dat die aand nie net ʼn afskeid was nie, maar ook ʼn viering van ʼn nuwe begin.

Namate die aand tot ʼn einde gekom het, het ʼn gevoel van dankbaarheid, trots en verwagting oor die groep gehang. Die 2025-skoolverlaters van die Abraham Kriel Kinderhuis Nylstroom – uniek in hul veerkragtigheid en samehorigheid – het hul laaste hoofstuk met waardigheid afgesluit.

Hierdie aand sal lank onthou word as een gevul met styl, siel en sentiment – ʼn herinnering wat met trots en heimwee in elke skoolverlater se hart sal voortleef.

Ondersteun Ons