Diamond Hearts NPO inspireer jong vroue van Abraham Kriel Kinderhuis


Op 20 September het Anna du Plooy en Kyra-Jade van Diamond Hearts NPO ʼn ontwikkelingswerkswinkel aangebied vir ʼn groep jong dames van Abraham Kriel Kinderhuis Nylstroom. Die doel hiervan was om die dogters se praktiese vaardighede en persoonlike ontwikkeling te bevorder.

Die program het onder meer basiese vel- en naelsorg, persoonlike higiëne, ’n positiewe liggaamshouding en praktiese tafeldekvaardighede ingesluit. Die dogters het ook deelgeneem aan ʼn simboliese aktiwiteit waar hulle mekaar met ʼn tiara gekroon het, as ʼn oefening in wedersydse erkenning.

Elke deelnemer het ʼn geskenksakkie met selfversorgingsprodukte en ʼn sertifikaat van deelname ontvang.

“Ons is ongelooflik trots op die groei en selfvertroue wat elke dogter uit hierdie ervaring geput het, en sien uit na hoe hulle hierdie nuwe gevoel van waardigheid saam met hulle die wêreld in dra,” sê Marlene de Villiers, bemarkingsbeampte van die kinderhuis.

“Ons opregte dank aan Anna en Kyra-Jade van Diamond Hearts NPO vir hierdie pragtige inisiatief en vir die liefde en sorg waarmee julle ons dogters se harte aangeraak het.”

Ondersteun Ons