
Abraham Kriel-kinders besoek Hope for the Blind in Modimolle
ʼn Groep kinders van Abraham Kriel Kinderhuis Nylstroom het op 18 Oktober die nuwe Hope for the Blind-sentrum in Modimolle besoek, waar oogheelkunde met kuns- en natuurgerigte ruimtes gekombineer word om ʼn omvattende ondersteuningsomgewing vir pasiënte te skep.
Hope for the Blind se fasiliteit sluit onder meer ʼn kunsuitstalling binne die kliniek in; ʼn benadering wat daarop gemik is om die pasiëntomgewing te verryk. Die groep kinders het spesifiek kennis gemaak met die First Light-projek – ’n inisiatief waar kunswerke aan pasiënte vertoon word wanneer hul verbande ná oogchirurgie verwyder word en hulle weer kan sien.
Die uitstalling bevat werke van verskeie prominente Suid-Afrikaanse kunstenaars, waaronder William Kentridge, Nelson Makamo, Mary Sibande, Willem Boshoff, Heidi Fourie en Nhlanhla Nhlapo. Die kinders het die geleentheid gehad om die kunswerke van naby te beskou en oor hul indrukke daarvan te gesels.
ʼn Hartlike dankie aan Hope for the Blind vir die geleentheid om deel te wees van só ʼn betekenisvolle en inspirerende dag. Ons waardeer veral die bydrae van dr. Stegmann, Johan Stegmann, Mikayla en die hele span wat die besoek vir ons kinders moontlik gemaak het.
