
Van Wettens gholfdag bring hoop vir Kinderhuiskinders
Die jaarlikse Van Wettens-gholfdag is op Vrydag, 17 Oktober, op die Matumi-gholfbaan in Mbombela aangebied. Die geleentheid het deelnemers en borge uit verskeie sektore saamgebring ten bate van Abraham Kriel Kinderhuis Nylstroom.
Abraham Kriel Kinderhuis Nylstroom versorg 170 kinders vanaf geboorte tot 18 jaar. Die organisasie is grootliks afhanklik van donasies om sy daaglikse bedrywighede en verskeie programme te finansier. Projekte soos die gholfdag vorm daarom ʼn belangrike deel van die kinderhuis se jaarlikse fondswerwing.
Volgens Marlene de Villiers, bemarkingsbeampte van die kinderhuis, het die dag vlot verloop: “Hierdie gholfdag was besonder spesiaal – van die uitstekende organisering en professionele aanbiedings tot die warmte en vriendelikheid van almal teenwoordig.” Die fondse wat ingesamel is, sal aangewend word vir die kinderhuis se operasionele kostes, die kinders se terapeutiese behoeftes en ook om die feesseisoen vir hulle ekstra spesiaal te maak.
“Ons sê uit die diepte van ons harte dankie aan die hele Van Wettens-span vir julle ongelooflike toewyding, harde werk en groot harte. Julle het nie net gholf gespeel nie – julle het lewens verander,” sluit de Villiers af.
