
Kinderhuis genomineer vir Besigheid van die Jaar-toekennings, Ontbytsake
Abraham Kriel Kinderhuis Nylstroom is trots om aan te kondig dat ons as finalis in Ontbytsake se Onderneming van die Jaar benoem is. Die spoggeleentheid is op 23 Oktober 2025 by die historiese Nederburg-wynlandgoed in die Paarl aangebied. Hoewel die kinderhuis nie as wenner weggestap het nie, gee die benoeming besondere erkenning aan ons volgehoue toewyding aan die versorging en ontwikkeling van die 170 kinders wat daagliks in ons sorg is.
Ons afgevaardiges, uitvoerende hoof Gerda van der Merwe en bemarkingsbeampte Marlene de Villiers, se verblyf is deur Babylonstoren geborg. “Ons harte is vol dankbaarheid teenoor Dalene en haar uitmuntende span wat ons verblyf geborg het. Julle het ons op die hande gedra,” sê Marlene.
Ons opregte dank en waardering gaan aan elke donateur, ondersteuner en vriend wat help om ons missie uit te dra. “Dankie dat julle saam met ons werk om ʼn toekoms vol hoop en geleenthede vir ons kinders te bou. Julle ondersteuning maak hierdie reis moontlik.”
