
Lumen-fees
Lumen-skouspel, oftewel die Liggiefees, het die terrein van Abraham Kriel Kinderhuis Nylstroom van 13 tot 23 Desember 2025 weer in rep en roer gehad. Ná weke se beplanning en ure se oprigting van die liginstallasies in die somerhitte, het die groot oomblik aangebreek: die skakelaar is aangesit en duisende liggies het die donker verlig met ʼn duidelike boodskap van hoop en vreugde.
Ondanks die storms wat Nylstroom getref het en die skade wat aan sekere installasies aangerig is, het die Liggiefees voortgegaan. Die herstelwerk en aanpassings het nie net die program aan die gang gehou nie, maar ook die kernwaarheid beklemtoon: lig bly sterker as duisternis.
Elke aand vanaf 18:00 het besoekers begin instroom. Gesinne en vriende het saam gekuier en pizza, hamburgers, skyfies, of bloot ʼn warm koppie koffie geniet. Ons kinders het ook fluks gehelp deur onder andere reflekteerbande uit te deel en besoekers veilig na parkeerareas te begelei.
Tydens hierdie somersaande het musiek, gelag en die geure van kos die terrein gevul: ribburgers, pannekoek, kerrie en rys, en die soet spookasem wat telkens glimlagte ontlok het. Kersvader het besoekers verwelkom, foto’s het besondere oomblikke vasgevang, en stalletjies het juwele en ander geskenkidees vir Kersfees aangebied.
Die program het afgeskop met ʼn laservertoning en deur die week het die musiek van Scallywag, Pieter Labuschagne, Jannie du Plessis en Franna Benadé se Carols by Candlelight die atmosfeer nog meer feestelik gemaak.
Teen die laaste aand was dit duidelik dat tien dae se lig en saamwees meer as net ʼn fees opgelewer het: dit het die gemeenskap bymekaar gebring.
