Dankie vir ons fees van hoop


Kersfees breek jaar na jaar by die Abraham Kriel Kinderhuis Nylstroom aan met ʼn stilte wat swaar op die hart lê. Wanneer die voertuie een vir een by die hek uitry, is die vraag onuitgesproke, maar duidelik: wat beteken Kersfees vir ʼn kind wat nie huis toe gaan nie?

Vir baie gesinne is Kersfees sinoniem met samesyn, ʼn tafel vol geliefdes en geskenke toegedraai in kleurryke papier wat oopgeskeur word. By die kinderhuis lyk die dag anders, maar die betekenis en behoefte bly dieselfde – dat kinders veilig, geliefd en ingesluit wil voel.

In 2025 het ons by ons vriende aangeklop om vir ons kinders iets van daardie Kerfeeswarmte moontlik te maak. Elke kind verdien dit om die vreugde van ʼn feesmaal te ervaar, om met liefde omring te word, saamwees te beleef en die vrolikheid te geniet.

Ons vriende het daardie spesiale oomblik moontlik gemaak deur borde kos vir ons Abraham Kriel-kinders te borg.

Op 25 Desember het die kinders netjies aangetrek vir ons feesmaal van hoop by die Weesgerus Oord. In die saal het mooi gedekte tafels vir ons gewag, ʼn feestelike maaltyd is voorgesit en kersliedere het sag in die agtergrond gespeel.

Die Kersete was besonders en het elke kind dit baie geniet. Dit het nie net oor die kos gegaan nie, maar oor die hele ervaring: die saamsit, die deel, die lag. Die dag was ook gevul met ligter oomblikke – die kinders se gelag in die son terwyl hulle in en om die swembad gespeel het. Kersdag 2025 was beslis ʼn feestelike dag waarop ons kinders net weer kind kon wees.

Ons is opreg dankbaar vir elkeen wat hierdie dag moontlik gemaak het. Elke donasie het ʼn bord kos in ʼn feesmaal van hoop verander.

Ondersteun Ons