
Bakskool by Kinderhuis produseer 230 kolwyntjies
Kinders by die Abraham Kriel Kinderhuis Nylstroom het vroeg in Februarie hul hand aan die bak van kolwyntjies gewaag toe ons uitvoerende hoof, Gerda van der Merwe, ʼn bakkerskool by die kinderhuis begin het.
ʼn Groep van 25 aspirantbakkers het vir die eerste les in die toegeruste kombuis by die Abraham Koffiewinkel opgedaag. Hulle is toe in kleiner groepe verdeel en het die basiese beginsels van bak begin baasraak. Die resep is stap vir stap voorgelees en die eerste baksel is voorberei. Vir sommige kinders was dit ʼn besonderse oomblik om vir die eerste keer ʼn kolwyntjie self te bak en die baksessie het behoorlik weerklink van gelag en gesels.
Teen agtuur dieselfde aand was altesaam 230 kolwyntjies gebak! Na afloop van die les is die kombuis weer netjies opgeruim en ʼn paar moeë, maar opgewonde kinders het teruggestap na hul huise, gereed vir die volgende fase van die projek: versiering.
In hierdie fase was daar natuurlik heelwat tongtippietoetse om seker te maak dat die versiersuiker so lekker proe soos wat dit lyk.
“Dit is beslis nie die einde van die hierdie projek nie. ʼn Weeklikse baksessie is iets waarna ons kinders uitsien. Buiten die samesyn, leer die baksessies ons kinders praktiese vaardighede wat hulle ook in die toekoms kan gebruik,” het Gerda van der Merwe entoesiasties gesê.
