Ontmoet een van ons spanlede, Marlene Jonker


Marlene Jonker is al die afgelope tien jaar die finansiële bestuurder by Abraham Kriel Kinderhuis Nylstroom. Haar kernmandaat is om die begroting te bestuur en toe te sien dat daar daagliks voorsiening gemaak word vir elke behoefte van die 170 kinders in ons sorg. Met verloop van tyd het die pos egter veel meer as syfers en state geword ̶ dit het vir haar ʼn roeping geword om elke dag uit te leef.

Sy beskryf haar loopbaan as een wat deur verskillende seisoene en uitdagings gevorm is, maar met ʼn enkele konstante: die oortuiging dat God in beheer is. Die druk was op sy hoogste tydens die COVID-tydperk, toe onsekerheid elke vlak van die kinderhuis se funksionering geraak het. “Daar was oomblikke,” vertel sy, “wat ons eerlikwaar nie geweet het hoe ons alles sou betaal, of hoe ons volhoubaar in die kinders se behoeftes sou bly voorsien nie.”

Volgens Jonker het hulp telkens gekom op die oomblikke wanneer dit die nodigste was. Mense met onverwagte skenkings, oop harte en ongelooflike vrygewigheid het, in haar woorde, soos “engele” opgedaag. Die patroon was duidelik: net wanneer geloof getoets is, het voorsiening gevolg ̶ God het nie gefaal nie.

Jonker is eerlik oor haar grootste wens: dat daar nooit ʼn behoefte aan kinderhuise sou wees nie; dat geen kind ooit uit ʼn gesinsomgewing verwyder hoef te word nie; en dat elke kind in veiligheid en liefde binne sy of haar eie familie kan grootword. “Maar,” voeg sy by, “dit is nie die realiteit nie.”

Juis daarom is sy dankbaar dat Abraham Kriel Kinderhuis Nylstroom ʼn toevlugsoord kan wees waar kinders beskerm word en waar hulle nuwe hoop kan kry. Om deel te wees van ʼn veilige hawe waar personeel kinders versorg, ondersteun en na ʼn beter toekoms begelei, bly vir haar ʼn voorreg en ʼn seën wat sy nie as vanselfsprekend beskou nie.

Dankie dat jy in ons kinders se toekoms belê. Jou volgehoue ondersteuning verander nie net lewens nie, maar help om elke maand nuwe stories van hoop te skryf.

Ondersteun Ons