
UNESCO-program inspireer 'n Graad 10-leerder
Op 11 en 12 Februarie vanjaar het dogters met ʼn belangstelling in die verwante dissiplines van wetenskap, tegnologie, ingenieurswese en wiskunde (STEM) aan ʼn spesiale UNESCO-program deelgeneem om vroue in hierdie velde te vier.
Onder die 200 uitgenooide leerders was dogters van Settlers Agricultural High School, waaronder ook ʼn Graad 10-leerder van die Abraham Kriel Kinderhuis Nylstroom.
Ter viering van die Verenigde Nasies se Internasionale Dag van Vroue en Dogters in die Wetenskap het leerders oor twee dae, deur aanbiedings en praktiese aktiwiteite, die wêreld van STEM verken. Geïnspireer deur Thomas Edison se uitvinding van die gloeilamp, het die meisies hul eie werkende modelle gebou. Hulle het ook hul probleemoplossingsvaardighede getoets deur miniatuurwolkekrabbers met spaghetti en eenvoudige materiaal te maak.
Hierdie program is moontlik gemaak deur IEEE, die departement van basiese onderwys, die Universiteit van Pretoria en REACH..
Die ervaring het ʼn duidelike boodskap beklemtoon: ingenieurswese is ‘n dryfkrag vir ekonomiese ontwikkeling, en die wêreld van wetenskap kan spog met inspirerende vroue wat in die hierdie velde werk.
Programme soos hierdie spoor Abraham Kriel-kinders aan om hard te werk en dien terselfdertyd as ’n herinnering dat hulle enigiets kan vermag, ongeag die omstandighede waaruit hulle kom.
