
’n Huis wat ’n toekoms bou – Sanet Basson se suksesverhaal
Toe Sanet Basson in Maart 2017 by die Abraham Kriel Kinderhuis Nylstroom aangekom het, was sy reeds blootgestel aan ʼn reeks uitdagende omstandighede. Haar vroeë kinderjare was gekenmerk deur onder meer geslagsgebaseerde geweld, verwaarlosing en emosionele trauma – faktore wat haar ontwikkeling op ʼn jong ouderdom beïnvloed het.
Die kinderhuis het vir haar ʼn plek van stabiliteit geword.
Van die intrapslag af was Sanet in ʼn gestruktureerde omgewing waar roetine, toesig en konsekwente sorg deel van haar daaglikse lewe was. Die kinderhuis se personeel het nie net in haar basiese behoeftes voorsien nie, maar ook ʼn aktiewe rol gespeel in haar persoonlike ontwikkeling. Deur leiding, dissipline en volgehoue ondersteuning het hierdie verhoudings oor tyd ʼn betekenisvolle invloed op haar gehad.
Gedurende haar tienerjare het ʼn verdere uitdaging oor haar pad gekom toe sy ʼn bragiale sist ontwikkel het. Die toestand het aanhoudende ongemak veroorsaak en haar welstand en akademiese fokus beïnvloed. Die situasie is verder bemoeilik omdat toegang tot behandeling binne die openbare gesondheidstelsel bykomende uitdagings geskep het.
Ten spyte hiervan het die kinderhuis haar deurgaans ondersteun deur haar mediese sorg te help koördineer, emosionele bystand te bied en haar akademiese vordering te prioritiseer. Met behulp van eksterne ondersteuning kon sy uiteindelik die nodige behandeling kort voor haar finale matriekeindeksamen ontvang.
Die droom om onderwys te studeer het deurgaans vir haar ʼn kernfokus gebly. Die kinderhuis se personeel het haar akademiese potensiaal raakgesien en haar deurgaans ondersteun, met die oog op verdere studies en selfstandigheid. Sanet het haar skoolloopbaan suksesvol voltooi en het toelating tot hoër onderwys verkry.
Sy is nou besig om haar Baccalaureus in Opvoedkunde (BEd) aan die Universiteit van Pretoria te voltooi en het reeds haar onderwysloopbaan by Laerskool Nylstroom in Limpopo begin.
Haar beroepskeuse weerspieël die invloed van die volwassenes wat haar tydens haar verblyf by die kinderhuis ondersteun het. Hulle rol het verder gestrek as onmiddellike versorging en het ʼn blywende bygedra gelewer in die vorming van haar toekoms.
Sanet se verhaal illustreer die breër rol van Abraham Kriel Kinderhuis Nylstroom: om nie net beskerming te bied nie, maar om ʼn omgewing te skep waar kinders die geleentheid kry om tot onafhanklike volwassenheid te ontwikkel.
Haar pad vorentoe dien as ʼn voorbeeld van wat moontlik is wanneer konsekwente ondersteuning, toegang tot onderwys en doelgerigte begeleiding gekombineer word.
