Saam op die reis – 'n maatskaplike werker met 'n hart vir ons kinders


Charnel Oberholzer is ʼn maatskaplike werker by Abraham Kriel Kinderhuis Nylstroom, waar sy daagliks ʼn verskil maak in die lewens van 170 kinders wat met baie uitdagings op hul pad te doen kry. Sy werk vanuit ʼn diepe en opregte omgee vir kinders en haar begeerte om hoop te herstel waar dit verlore gegaan het.

Vir haar is die kinderhuis meer as net ʼn werksplek.

“Dit is ʼn ruimte waar kinders veiligheid, struktuur en nuwe geleenthede kry ̶ ʼn plek waar hulle weer kan begin bou aan hul toekoms. Om deel van daardie proses te wees, is ʼn voorreg,” sê sy.

As maatskaplike werker strek haar rol verder as papierwerk en verslae. Sy stap saam met kinders deur moeilike emosies soos vrees, onsekerheid en verlies, en werk doelgerig daaraan om vertroue te help herbou. Haar fokus is om ʼn veilige teenwoordigheid te wees – iemand by wie kinders kan aanklop, hul stories kan deel en weer kan leer om in hulself te glo.

Charnel se passie en doelgerigtheid blyk duidelik uit haar woorde: “In 2026 sien ek daarna uit om projekte te lei wat kinders help om praktiese vaardighede te ontwikkel, verantwoordelikheid te neem en selfvertroue te ontwikkel sodat hulle met hoop hul toekoms kan aanpak.”

Hoewel die werk emosioneel veeleisend kan wees, ervaar Charnel dit as betekenisvol. “Elke uitdaging dra by tot my eie groei en herinner my waarom hierdie werk saak maak. Dit is juis die klein deurbrake en stille oorwinnings wat vir my die meeste betekenis inhou.”

Op ʼn persoonlike vlak is sy doelgerig en ambisieus, maar ook bewus van die onsekerhede wat met nuwe geleenthede gepaardgaan. Tog kies sy om vorentoe te beweeg, selfs wanneer die pad onbekend voel. Sy leef met die oortuiging dat elke ervaring iets waardevols bring.

Charnel word gelei deur ʼn eenvoudige beginsel wat haar ouers haar geleer het: “Jy begin nie iets en maak dit nie klaar nie. Gee jou beste, en God sal die res doen.”

Haar hoop is dat elke kind sal besef dat hy of sy saak maak, dat hul toekoms oop voor hulle lê en dat hulle nie die pad alleen hoef te stap nie.

Ondersteun Ons