Gerda van der Merwe, 'n Draer van Hoop wat lewens verander


Deur Bianca Smit, netwerk-koördineerder Solidariteit Maatskaplikewerkersnetwerk

Op Internasionale Maatskaplikewerkersdag is daar landwyd stilgestaan by die mense wat daagliks in die skadu werk – dié wat optel waar ander verbyloop, wat luister waar ander stilbly, en wat hoop bring waar dit dikwels ontbreek.

Een van hierdie besondere mense is Gerda van der Merwe. Sy is onlangs as een van sewe nasionale Hoopdraers vir 2026 aangewys, spesifiek as Limpopo se Hoopdraer.

Die Hoopdraer-toekenning, ʼn inisiatief van Solidariteit se Maatskaplikewerkersnetwerk en Solidariteit Helpende Hand, is in 2022 ingestel met ʼn eenvoudige maar diep betekenisvolle doel: om erkenning te gee aan maatskaplike werkers wat dikwels ongesiens ʼn onskatbare verskil maak. Hierdie is mense wat nie net hul werk doen nie, maar hulle roeping uitleef.

Gerda is een van daardie mense.

Wat haar toekenning besonder maak, is nie net haar jare se diens of haar professionele kundigheid nie, maar die impak wat sy op ander mense se lewens het – selfs tot op die punt waar sy lewensrigtings verander.

Die beoordelingsproses is deur ʼn onafhanklike adviesraad hanteer wat onpartydig en uitsluitlik op grond van ervaring en motivering punte toegeken het. Gerda het die hoogste punte in haar streek behaal; ʼn duidelike bewys van haar diepe betrokkenhied en haar strewe om werklik ʼn verskil in mense se lewens te maak.

Een van die beoordelaars se motiverings sê meer as wat enige formele beskrywing ooit kan:

“Ek is ʼn maatskaplike werker omdat ek van jongs af geweet het ek wil ʼn werklike verskil in mense se lewens maak. Die voorbeeld van Gerda van der Merwe en haar ongelooflike passie vir mense in nood het my só diep geraak dat ek nooit enige ander beroep oorweeg het nie. Ek het eerstehands gesien watter verskil haar menswees, empatie en onselfsugtige diens in mense se lewens maak, en dit het my roeping bevestig om met dieselfde hart en toewyding ander te dien.”

Dít is die ware nalatenskap van ʼn maatskaplike werker – nie net die lewens wat jy aanraak nie, maar die nuwe generasies wat jy inspireer.

Vir Gerda self is haar roeping eenvoudig, maar kragtig:

“Ek is passievol oor die ontwikkeling van menslike potensiaal, om mense se lewensomstandighede te help verander en hulle hoop te gee.”

Dit is juis hierdie fokus op hoop – tasbaar, prakties en menslik – wat haar ʼn waardige ontvanger van die Hoopdraer-toekenning maak.

Gerda dring nou deur na die volgende rondte van beoordeling, waar sy die moontlikheid het om as een van die top drie nasionale Hoopdraers vir 2026 aangewys te word.

Maar vir dié wat haar ken en saam met haar werk, is die titel reeds duidelik: Sy is nie net ʼn Hoopdraer nie – sy is iemand wat hoop elke dag uitleef.

Ondersteun Ons