Hiep hiep hoera, die Abraham Kriel-kinders vier hul verjaarsdae!


Die Abraham Kriel Kinderhuis Nylstroom het gedurende Februarie die “Hiep-hiep hoera!”-veldtog geloods, ʼn inisiatief wat ontstaan het uit ʼn eenvoudige, maar belangrike behoefte: dat elke kind die vreugde van ʼn verjaarsdagviering kan ervaar. Omdat so ʼn dag vir baie van ons kinders nie vanselfsprekend is nie, het hierdie veldtog vir hulle die geleentheid gebied om spesiale oomblikke te beleef.

Danksy die ruim ondersteuning van ons vriende en donateurs kon hierdie veldtog op 6 Maart werklik gestalte kry met ʼn feestelike partytjie by Spur in Modimolle. Maart is doelbewus gekies aangesien ons stigter, ds. Abraham Kriel, self in hierdie maand verjaar het. Al 170 Abraham Kriel-kinders het die middag saam fees gevier.

Die kinders het baljaar in die speelplek, ingekleur by die tafels en die burgers, skyfies en koek behoorlik geniet. Toe die verjaarsdaglied opklink, het almal spontaan saam geklap en gedans.

Die besondere atmosfeer van die dag het in die klein oomblikke gelê – die vreugde op die kinders se gesigte en die uitbundigheid waarmee die verjaarsdaglied saamgesing is. Alles het bygedra tot ʼn onvergeetlike dag vol lag, feesvier en saamwees.

ʼn Spesiale woord van dank gaan aan Spur Modimolle vir die hartlike ontvangs en dat julle saam met ons feesgevier het. Julle gasvryheid en betrokkenheid het ʼn groot bydrae gelewer tot die sukses van die dag.

En dan, die belangrikste: aan elke vriend en ondersteuner wat ʼn donasie gemaak het. Dit is juis deur julle bydraes dat hierdie partytjie ʼn werklikheid geword het. Vir hierdie kinders was dit nie net nóg ʼn uitstappie nie, maar ʼn kosbare herinnering wat hulle nog lank sal bybly.

Kyk gerus na die dag se feesvieringe hier

Ondersteun Ons