
Show on the Road bring 'n boodskap van hoop
Die Show on the Road-projek is ʼn inisiatief waarin 17 talentvolle Abraham Kriel-kinders as ʼn dramagroep afgerig word. Onder die leiding van die bekende akteur Louis Minnaar word hierdie produksie voorberei vir die bewusmakingsweek vir kinderbeskerming (29 Mei tot 5 Junie 2026). Die tema is “Every Life Matters”.
“Die kinders het reeds met groot entoesiasme begin om hul tekste te leer en toneelspelvaardighede te slyp,” sê Charnel Oberholzer, projekkoördineerder. “Met Louis se leiding groei die groep se selfvertroue en vermoëns elke dag. Sy ervaring en sukses as akteur voeg groot waarde tot die projek toe en help elke kind om sy stem te vind en sy karakter op ʼn outentieke wyse uit te beeld.”
Show on the Road is meer as net ʼn toneelstuk vir ons kinders. Dit is ʼn platform vir uitdrukking, bewusmaking en genesing. Die storielyn weerspieël hoop te midde van harde realiteite en werp lig op die belewenisse van kinders wat dikwels oor die hoof gesien word en onsigbaar voel. “Deur hierdie boodskap na skole te neem, hoop ons om belangrike gesprekke oor kinderbeskerming en emosionele welstand aan te wakker,” sluit Oberholzer af.
Dankie dat jy in ons kinders se toekoms belê. Danksy jou ondersteuning word lewens verander en nuwe stories van hoop elke maand geskryf.
