
Groentetuinprojek by Kinderhuis gaan van krag tot krag
ʼn Nuwe groentetuinprojek is by die Abraham Kriel Kinderhuis Nylstroom van stapel gestuur. Onder leiding van Charnel Oberholzer, een van ons maatskaplike werkers, en verskeie huisouers kweek en versorg ʼn groep seuns en dogters hul eie groente.
Die eerste groente is enkele maande gelede geplant en die projek het reeds goeie resultate opgelewer. Die kinders het al twee oeste ingesamel en vars spinasie geniet wat hulle self geplant en versorg het.
Die projek het intussen verdere momentum gekry en ongeveer 300 nuwe plantjies is in Februarie geplant. Benewens spinasie is daar ook by ander huise groente soos kool en beet aangeplant.
“Met hierdie projek wil ons ons kinders vaardighede aanleer en dit as ’n geleentheid gebruik om na die gemeenskap uit te reik. Die eerste instansie in die gemeenskap wat genoeg beet en spinasie vir ’n ete ontvang het, was Ons Hoop Tuiste, ’n tehuis vir minderbevoorregte bejaardes. Die kinders het die groente persoonlik oorhandig en ook ’n rukkie saam met die bejaardes gekuier. Beide die kinders en die bejaardes het die ervaring baie positief beleef.” sê Charnel.
Ons verwelkom enige ondersteuning om die projek verder uit te bou. Dit sluit onder meer skenkings van plaagbeheerprodukte, ʼn drukspuit, plantjies, asook praktiese raad en kundigheid in.
Die projek is ʼn bron van trots – nie net oor die opbrengste nie, maar ook oor die entoesiasme en deursettingsvermoë waarmee ons kinders in die groentetuine werk.
Stuur gerus ʼn e-pos aan Charnel Oberholzer by [email protected] om by hierdie projek betrokke te raak.
