Micayla bak vir ʼn blink toekoms
Wat met haar eerste bakpogings op skool begin het, het vir Micayla Jenkins, ʼn voormalige inwoner van Abraham Kriel Kinderhuis Nylstroom, tot professionele opleiding in patisserie gelei. Vanjaar het sy verskeie kwalifikasies verwerf en is sy goed op pad om haar plek in die gasvryheidsbedryf te vind.

“Vir my is bak baie meer as om net iets lekkers te maak. Ek geniet dit om kreatief te wees, iets met my eie hande te skep en te sien hoe gelukkig dit ander mense maak,” vertel sy.
Dié belangstelling het haar na The International Hotel School geneem waar sy haar studies met groot toewyding aangepak het. Vanjaar het sy haar QCTO-kwalifikasie, ʼn École Ducasse-sertifikaat en haar kwalifikasie in patisserie suksesvol voltooi. “Die pad was nie altyd maklik nie. Daar was uitdagings, maar ek het aangehou werk en myself probeer verbeter. Om uiteindelik my kwalifikasies te ontvang, veral in patisserie, beteken vir my ongelooflik baie.”
Micayla wil nou haar kennis verder uitbrei en praktiese ervaring opdoen. Haar uiteindelike doelwit is om haar eie onderneming te vestig, waar sy haar kreatiwiteit kan uitleef en ʼn bydrae tot mense se spesiale geleenthede kan lewer.
Wanneer sy terugkyk op haar pad sedert 2019, is sy veral dankbaar vir die mense wat haar ondersteun en in haar vermoëns geglo het.
“Ek is trots op wat ek bereik het, maar ek weet daar is nog baie wat ek wil leer. Ek sien uit na wat voorlê en wil elke geleentheid gebruik om verder te groei. Die einde van my studies is die begin van my loopbaan waarin ek my talent en liefde vir bakkuns kan uitleef,” sluit Micayla af.