
Ons was see toe!
Na maande van beplanning het ons vakansie aangebreek en pak ons die reis dou voor dag om 04:15 op 26 Desember 2022 aan. Groot opewondenheid het geheers! Danksy ons hoofborg, Irvin Tam, van Amy Bell Charities South Africa, PHASA (die Suid-Afrikaanse vereniging vir professionele jagters) en heelwat donateurs kon ons vir 10 dae by Summerstrand in Gqeberha gaan uitspan en ʼn onvergeetlike vakansie geniet. Irvin Tam is ʼn besondere mens. Sy deernis vir ons was sigbaar en hy het ʼn ongelooflike impak op elkeen gehad. Die Amy Angels, deel van Irvin se organisasie, het gehelp met toesig, kosvoorbereing en speletjies vir die kinders.
Oppad het ons by die President Kruger Kinderhuis in Reddersburg oorgeslaap. Omstreeks 17:00 het ons in Gqeberha aangekom. Groot opwinding het in die bus geheers omdat ʼn roomys beloof is aan die een wat die see eerste sien. Tot almal se vermaak is elke moontlike beduidenis van “see” met groot entoesiasme aangekondig! Die vreugde was aansteeklik, verbeeldings het op hol gegaan, en elke kreatiewe voorstel het die bus met ‘n gelag gevul.
Die verrassing was groot toe die see en al die groot skepe uiteindelik in sig gekom het. Oom Swannie en Tannie Annie Swanepoel het die grootoog kleintjies alles van die see, groot skepe, visvang en swem vertel. Helaas moes ons tot die volgende oggend wag om die verwondering op die gesiggies te waardeer, want almal was pootuit en het gou-gou nag gesê en reguit bed toe gegaan.
Die volgende oggend het stilte geheers: die afwagting was net te groot om die see vir die eerste keer ooit te sien...
Ek is baie trots op die personeel en kinders van Abraham Kriel Kinderhuis Nylstroom. Oral waar ons gegaan het, het ons net positiewe terugvoer oor ons kinders gekry.
Mense wat ons op Facebook volg, het ons met lekkernye bederf en klere is vir ons gebring. ʼn Groot dankie gaan aan Leyanca en Linda vir hul bydraes, en aan Gary Potgieter van die City Montessori-skool wat ons kinders met roomys bederf het.
Alle goeie dinge kom tot ʼn einde en ons het met ʼn stywe druk en ʼn vol gemoed gegroet. Irvin het elkeen omhels, ons ʼn veilige rit toegewens en ons boonop uitgenooi om vanjaar weer in Desember te kom kuier. Sy afskeidswoorde het almal diep geraak: "It was a truly humbling experience, thank you so much!"