Fietsry vir liefdadigheid


Gert Pienaar, ʼn fietsryer van Johannesburg, het ʼn ongelooflike 1 000 myl-fietsry-avontuur, bekend as die “Jo'burg to Blouberg 1000 Mile Challenge”, aangepak. Hierdie uitdaging behels ʼn selfondersteunde fietsrit langs die roete wat deur Massive Adventures opgestel is. Die reis het by Drie Riviere, Vereeniging, suid van Johannesburg, begin en ongeveer 1 000 myl (1 600 km) later by Bloubergstrand, Kaapstad, afgesluit met die ikoniese Tafelberg in sig.

Gert Pienaar se ekspedisie het op 19 Augustus in Vanderbijlpark begin. Op die derde dag van sy reis, 21 Augustus, is hy net buite Bloemfontein deur ʼn bakkie raakgery. Die bestuurder het hom egter te hulp gesnel en hom dadelik na die naaste hospitaal geneem. Gert het daarna etlike dae in die waakeenheid deurgebring, waar sy toestand geleidelik gestabiliseer het. Hy is later na die Zuid-Afrikaans Hospitaal in Pretoria oorgeplaas waar hy ʼn rugoperasie ondergaan het. Hy sterk tans by die huis aan en werk hard om sy kragte weer op te bou. 

Ons wil graag al ons sosialemediavolgelinge en borge bedank vir hul ondersteuning. ʼn Spesiale woord van dank gaan aan die Suid-Afrikaanse spesialemagtevereniging (SASFA) vir hulle ondersteuning en ruim skenkings. Gert Pienaar, by Abraham Kriel Kinderhuis Nylstroom salueer ons jou. Ons is innig dankbaar vir jou toewyding om ons kinders te ondersteun, en ons wens jou ʼn spoedige en volkome herstel toe.