
Kan jy Monique help om haar droom te verwesenlik?
Op 9-jarige ouderdom moes Monique Botha in 2015 die Abraham Kriel Kinderhuis Nylstroom haar nuwe tuiste noem. Met die intrapslag was dit duidelik dat sy nie sou toelaat dat die moeilike huislike omstandighede waaruit sy kom haar verder sou onder kry nie.
Sy het die hartseer uit haar verlede eerder as motivering gebruik om die mooi te soek; nie net in haar omstandighede nie, maar ook in mense. So is daar ʼn saadjie geplant om die mooi in ander uit te bring en het Monique se droom om ʼn haarstilis te word, ontstaan. Dié droom was sedertien ʼn rigtinggewende lig in haar lewe. Dit het haar in moeilike tye gemotiveer om ʼn beter toekoms nie net vir haarself nie, maar ook vir haar broer en suster in die kinderhuis, te verseker.
Monique het in April haar haarstileringskursus by die Serwalo Hair Academy in Pretoria begin. Die eenjaarkursus is op NQF vlak 4, gelykstaande aan ʼn diploma. By die akademie sal sy toegerus word met die nodige vaardighede, kennis en selfvertroue om ʼn loopbaan in die skoonheidsbedryf aan te pak.
Die koste van hierdie kursus beloop R70 000 en sy het jou hulp nodig om haar droom om die mooi in ander uit te bring, te bewaarheid.
Elke R100 is ʼn tree nader aan ʼn belowende toekoms. Jou bydrae sal nie net die koste van haar kursus dek nie, maar sal haar ook aanmoedig om in hierdie veld te floreer.
Donasies om Monique se droom te verwesenlik kan via Back a Buddy gemaak word of besoek ons webblad vir meer inligting.
Jou bydrae kan Monique se droom bewaarheid!